Rotes Rathaus

Die Berlynse Raadsaal

Die Berlynse Raadsaal, wat vanweë sy fasadeontwerp met rooi klinkerstene as Rotes Rathaus bekend staan, is geleë in die Rathausstraße en dien as die setel van die deelstaatregering (Senaat) en regerende burgemeester (eerste minister) van die Duitse hoofstad Berlyn.

Die raadsaal is tussen 1861 en 1869 deur die argitek Hermann Friedrich Waesemann (1813–1879) gebou, waarby die raadsaal van Thorn in Wes-Pruise as argitektoniese voorbeeld gedien het. Die ontwerp van die toring met 'n hoogte van 94 meter is aan die torings van die katedraal van Laon in Frankryk ontleen. Die gebou is 'n tipiese voorbeeld van die Berlynse rondboogstyl, wat oorspronklik deur die argitek Karl Friedrich Schinkel en sy skool ontwikkel is, en het daarnaas ook baie kenmerke van Gotiese raadsale.

Die raadsaal het 'n aantal ouer geboue vervang, wat gedeeltelik uit die Middeleeue gedateer het, en beslaan 'n hele straatblok. Die gebou het na sy voltooiing steeds as raadsaal gedien. Nadat dit tydens die Tweede Wêreldoorlog verniel is, is dit in die 1950's herbou as die setel van die Oos-Berlynse stadsregering, die Magistrat, terwyl die Wes-Berlynse regering na die Rathaus Schöneberg in die gelyknamige stadsdeel verhuis het. Met die hereniging van Wes- en Oos-Berlyn in 1991 het die Berlynse Raadsaal weer die amptelike setel van die Berlynse stadsregering geword.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy